South African Woman Wine Maker of the Year
Our Proud Sponsors Landbouweekblad
South African Wine Woman Maker :: News Home News Contact

Competition Rules
Awards
Judges
Entry Forms


News & Press

 

FINALISTS OF THE 2009 LANDBOUWEEKBLAD WOMAN WINEMAKER OF THE YEAR AWARD ANNOUNCED

English Version »

Ses dinamiese wynmakers het deurgedring tot die finale rondte van vanjaar se Landbouweekblad Vrouewynmaker van die Jaar-toekenning. Suid-Afrika se enigste kompetisie vir vrouewynmakers, nou in sy sesde jaar, word geborg deur Suid-Afrika se toonaangewende landbou- en agri-besigheidstydskrif, Landbouweekblad.

Vanjaar se kompetisie het 64 inskrywings van 28 vrouewynmakers regoor die land gelok. Volgens me. Lorraine Immelman-Steyn, organiseerder van die Vrouewynmaker van die Jaar-kompetisie, bewys die jaarlikse groei van die kompetisie dat vroue besig is om hul stempel op die wynbedryf af te druk. “Nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in ander dele van die wynwêreld is daar 'n toename in vroue wat tot dié bedryf toetree,” sê sy. “Oor die wêreld heers daar 'n groter bewustheid van vrouewynmakers, ook deur middel van soortgelyke internasionale kompetisies soos hierdie een, dink maar aan die National Woman's Wine Competition en die Women Winemakers Challenge.”

Vanjaar se ses finaliste sluit bekende wynname, asook nuwelinge in.

Danelle van Rensburg van Van Loveren in Robertson het deurgedring met haar 2009 Colombar, Ntsiki Biyela van Stellekaya in Stellenbosch het die top-ses gehaal met haar 2006 oesjaar Cabernet Sauvignon en Carmen Stevens van Amani, ook in Stellenbosch, het met haar 2008 Amani Kamili Chardonnay Viognier versnit deurgedring.

Corlea Fourie van Bosman Family Vineyards in Wellington, het met haar 2008 Chenin Blanc ook tot die top ses deurgedring saam met Corrien Geleijnse, van Swartland Wynkelder in Malmesbury met haar 2008 Shiraz, en laaste, maar nie die minste nie, Nomonde Kubheka van KWV in die Paarl met haar 2007 rooiwyn versnit, genaamd Triptych.

Die wenner word op 30 Julie tydens 'n gala-seremonie by die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes aangekondig.

Volgens Marilyn Cooper, hoof van die Kaapse Wynakademie en president van die beoordelaarspaneel, is vanjaar se kompetisie gekenmerk deur diverse en innoverende inskrywings. “Vir die eerste keer is daar vanjaar port ingeskryf, asook interessante enkelkultivar-wyne, soos Malbec.”

"Die paneel is deur 'n verskeidenheid, opwindende keuse van wyne oorval," sê sy.

Landbouweekblad se Vrouewynmaker van die Jaar moet meer kan doen as net goeie wyn maak. Die wenner word beoordeel op haar algehele persoonlikheid, beskouing van die wynbedryf en loopbaandoelstellings. Nadat die beste wyne blind gekies is, het 'n uitgelese paneel beoordelaars onderhoude met die ses finaliste gevoer.

Benewens Cooper, bestaan die paneel uit Erika Obermeyer verlede jaar se wenner en wynmaker by Graham Beck, Jo-Anne Mettler, wynbeoordelaar en skakelbeampte by L'Ormarins, Cathy Marston, `ʼn wynskrywer en wynkenner uit die Verenigde Koningryk, en Nicolette Waterford, `ʼn wynkonsultant.

Volgens Landbouweekblad, hoofborg van die kompetitsie, groei belangstelling in die kompetisie – waarin 'n ambassadeur vir die wynbedryf vir die volgende jaar gekies word – beslis. Dit is nou behoorlik 'n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse wynkalender.

Die aantal inskrywings groei jaarliks en die kompetisie trek wynmakers van groot, gevestigde kelders sowel as van kleiner kelders uit opkomende wynstreke,” sê Immelman-Steyn. “Ek is geweldig bly oor die groei van die kompetisie, veral omdat die kompetisie wys dat vroue, oor kultuurgrense heen, wynmaak as beroep kies. Die getal inskrywings vanjaar wys dat die titel van Suid-Afrika se Vrouewynmaker van die Jaar toenemend belangrik is vir ons vrouewynmakers. Ek voel dat in hierdie ekonomiese klimaat enige positiewe publisiteit, waar die aandag op wyn gevestig word, tot voordeel kan strek om wyn te help vestig as die gekose leefstylproduk van ons hele bevolking.

"Vroue in die wynbedryf geniet wêreldwyd toenemende erkenning en ek hoop dat hierdie toekenningsgeleentheid 'n belangrike rol speel in die motivering van alle vroue, nie net diegene wat die wynbedryf wil betree nie. Dit wys dat vroue enige loopbaan met sukses kan betree en met die nodige deursettingsvermoë, kennis en vaardighede hul hoogste ideale kan bereik – selfs in 'n sogenaamde ‘manswêreld'."

Die aanwys van hierdie wyn-ambassadeurs lei tot die bevordering van die veelsydige aard van die wynbedryf en volg op die gewildheid van die Champagne Lanson Woman in Wine-toekenning wat jaarliks by die International Wine and Spirits Fair in Londen aangebied word, asook die Shoprite-Checkers Vrou van die Jaar-toekenning.”

Elke finalis ontvang `ʼn berderfpakket van die Lanzerac Wellness Centre and Spa sowel as `ʼn geskenkpak Spiegelau-kristalware van Distinctive Brands. 'n Nuwe borg het van vanjaar ook hul gewig agter die kompetisie gegooi: die wenner- en finaliste-etikette word vanjaar vir die eerste keer geborg deur die internasionale etiket-drukkersmaatskappy, Collotype.

Vanjaar se wenner ontvang ook ʼn kontantprys van R20 000.